2009 Voorsittersverslag en Kersgroete
VOORSITTERSVERSLAG en KERSWENSE 2009
Die jaar 2009 was ‘n besondere jaar en was eenvoudig net te kort om al ons doelwitte te bereik.
Admin
Die administratiewe stelsel van die BJV is nog nie op die standaard wat ek dit sal wil hê nie. Veranderings het wel plaasgevind en is daar definitief ‘n verbetering te bespeur. ‘n Eenvormige adminstelsel behoort aan die einde van 2010 by alle takke in werking te wees wat ons meer in lyn sal bring met wetgewing. Daar kom nog probleme op die web voor, al die veranderinge wat aangevra is, is nog nie aangebring nie. Daar sal definitief in 2010 aandag aan gegee moet word. Ek wil graag alle admin dames op takvlak sowel as Uitvoerend bedank vir hul toewyding wat hulle aan die dag lê en hul ondersteuning en lojaliteit aan hul voorsitters, dit word opreg waardeer.
Finansies
Die finansies van hierdie vereniging is gesond. Meer fondse is gedurende 2009 geallokeer na takke om dienslewering te bevorder op takvlak. Volgens die 2009 finansiële verslag sien ek dat al die takke oor ‘n stewige bankbalans beskik. Die takke kan nie meer die verskoning aanvoer dat hul nie oor genoegsame fondse beskik om hul lede te diens nie.
Ons huurooreenkoms verstryk oor 17 jaar en is daar geen voorsiening in die verlede gemaak vir die vervanging van die huidige eiendom nie. In 2009 is daar ‘n geldmarkfonds geopen en word alle huurgelde daarin gestort om voorsiening te maak vir die vervanging van die eiendom indien die kontrak nie hernu word nie.
Die BJV beskik ook nie oor ‘n regsfonds nie en is die fonds geopen en sal ook op ‘n geldmarkfondsrekening geplaas word. Gedeelte van hierdie fondse sal aangewend word vir die komende hofsake wat gedurende 2010 gaan plaasvind. Ek wil graag my dank betuig aan die Tesourier, Frederik Eloff en sy kantoordame, Anèl Heinlein. Hierdie twee persone se lojaliteit, toewyding en deeglikheid is onbeskryflik. Hulle is regtig twee staatmakers.
Impala
‘n Tydskrif in ‘n vereniging is vir my baie belangrik en daarom het ons gedurende 2009 die Impala weer aan die gang gekry met die hulp van Piet de Jager. Die Impala is ons kommunikasie met u as lede en is dit belangrik om hierdie kommunikasie met u te behou en moet ons ten alle tye poog om hierdie tydskrif te befonds. Piet offer ongelooflik baie van sy tyd op vir hierdie tydskrif om hom te laat werk. Ek wil vir Piet sê baie dankie en die tydskrif verbeter beslis met elke uitgawe.
Opleiding
Gedurende 2009 het Chasa nuwe opleidingsmateriaal die lig laat sien, maar is ongelukkig nog net in Engels beskikbaar. Die Afrikaanse weergawe sal in 2010 beskikbaar wees. Die Engelse vraestel is deur ons Hoof Opleidingsbeampte, Stephan du Plessis vertaal na Afrikaans en versprei na ander verenigings. Baie dankie hiervoor Stephan.
Ek dink dat ons in die toekoms moet kyk dat die BJV sy eie opleidingsmateriaal moet kry. Ek dink ons beskik oor genoeg kundiges in ons vereniging om die opleidingsmateriaal saam te stel.
Jeugprojek
Gedurende 2009 het Pietersburgtak ‘n loodsprojek onder leiding van Norman Brown geloods. Die doel van hierdie projek is om die jeug meer betrokke te kry by die BJV. Norman het die skoolhoofde gaan sien en daar is alreeds ‘n komitee saamgestel waar Norman as mentor sal optree. Projekte vir die jeug is reeds geidentifiseer en opleiding sal gedurende 2010 begin. Ek is baie opgewonde oor die projek en wil ek my dank aan Norman en sy span oordra en wens ek hulle sterkte toe met die projek. As die projek ‘n sukses is, sal dit baie beteken vir die BJV in die toekoms.
Bewaringsprojekte
Ons het die Lajuma Luiperd Projek geidentifiseer waarby ons gedurende 2009 betrokke geraak het. Ons het aan die bewaringsprojek R10 000 geskenk wat aangewend word vir die monitering van luiperds. Ons het ook ons betrokkenheid redelik in die media bekend gemaak.
Algemeen
Ek is tevrede met wat bereik is in 2009 en wil ek my bestuurspan bedank vir hul lojaliteit, opofferings en toewyding wat hulle aan die dag gelê het, julle is regtig ou ysters. Ek wil ook al ons borge vir 2009 hartlik bedank vir jul oop hand. Julle het vir ons baie dinge moontlik gemaak. Mag God jul ryklik sëen. Spesiale dank aan my sekretaresse vir al haar harde werk en ondersteuning.
Kerswense
Van my en my gesin wens ons u elkeen ‘n baie Geseënde Kersfees toe en mag u ‘n voorspoedige 2010 ervaar. Mag God u ryklik seën en sy arms van beskerming om u toevou. Aan u wat die feestyd op die pad is, ry veilig. Geniet u vakansie en ons sien mekaar weer in 2010.