Elke tak bied 'n kaleidoskoop van aktiwiteite aan en elkeen het 'n eie kultuur uniek aan sy streek.
Kontak die verskillende besture en vind meer uit oor waar jy kan inskakel.
Hou almal se kalenders dop en geniet saam met die verskillende takke hulle aktiwiteite.
Die Magaliesberg tak is gestig op 11 September 2003. Die aanvanklike rede vir die stig van die tak was om bestaande BJV lede wat na Gauteng verhuis het, te diens. Die tak het sederdien `n tak in eie reg geword wat bestendig groei.Die tak bied jaarliks `n vol program aan wat onder meer insluit junior opleiding, senior opleiding, skietdae en sosiale funksies. Ons beywer ons om die hele gesin te betrek en daarom sluit ons handwapenskiet, boogskiet, kleiduif en jaggeweer in by ons skietdae. Die takbestuur se doelwit is "Om `n diens aan ons lede en potensiele lede te bied op so wyse dat hulle ons verkies bo soortgelyke verenigings tot voordeel van die tak en elke lid". Die Magaliesberg tak van die BJV bied dus `n uitstekende alternatief aan die publiek. Ons moedig lede aan om aktief betrokke te wees by aktiwiteite en sodoende deel te word van `n positiewe groep jagtersfamilie wat mekaar se geselskap waardeer, mekaar se tekortkominge aanvul en waar goeie sportmangees hoogty vier.
Die Bosveld Jagters en Wildbewaringsvereniging is in Augustus 1969 gestig in Pietersburg. Daar het in daardie stadium geen takke bestaan nie. Dit kan beskou word as die ontstaan van Pietersburg tak. Die ledetal het gegroei tot meer as 900 lede, wat dit die grootste tak in die BJV maak. Daar word jaarliks verskeie opleidings geleenthede gebied wat die volgende insluit: Junior- 1 en 2, CHASA-, spoorsny- en herlaai kursusse. Daar word ook verskeie skietdae aangebied en ons neem ook deel aan die 2 intertak skietdae (Eerste Saterdag in Februarie wat 'n span en individuele skiet is en die derde Saterdag in September wat 'n spanskiet is) Daar word 'n beroep gedoen op lede om die aktiwiteite by te woon en te kom deel in die pret.