Wat is Bosveld Jagters- en Wild- bewaringvereniging?

(hierna genoem die BJV)

Soos die naam aandui het BJV twee hoof funksies. Eerstens, die jagter, met alles wat daarmee gepaard gaan. Dink aan etiese kodes, reëls, wette en ordereëlings ten einde jag as `n gekontroleerde sport te beoefen. Dit is ook een van BJV se doelstellings om altyd nog meer jaggeleenthede te bekom vir ons lede.

Daar bestaan reeds 20 verenigings soortgelyk aan BJV met `n gesamentlike totaal van ±20,000 lede. Die meeste van die verenigings word saamgesnoer onder die oorkoepelende sambreel van CHASA wat dan ook as spreekbuis dien vir die jagter in Suid-Afrika. So is daar insette gelewer op regeringsvlak oor sake rakende die jagter in die algemeen.

Daar kan met reg gesê word dat jagters wat nie lid is van `n jagtersvereniging nie, wel direk baat vind by die werk wat deur verenigings soos BJV deur CHASA gedoen word - sonder CHASA sou die beperkinge wat die vuurwapenwet op die jagter plaas baie meer omvangryk gewees het.

Tweedens moet elke jagter omsien na die natuur- en wildlewe om te verseker dat hy sy sport in die toekoms steeds sal kan beoefen. Die onoordeelkundige benutting van ons natuurbronne kan onberekenbare skade aan ons wildlewe berokken. So word daar op voortdurende basis deur CHASA bystand verleen aan instansies wat studies in hierdie verband onderneem. Daar is al finansiële hulp verleen aan verskeie projekte soos die hervestiging van die Mofhartebees, die Bastergemsbok en Bosbokke in aangeplante bosbougebiede, die studie oor vrektes onder Koedoes, die terugteling van die "uitgestorwe" kwagga en nog vele meer.

In kort kom dit daarop neer dat die bewaringfunksie miskien swaarder weeg by die ernstige jagters as die jagaspek omdat laasgenoemde nie kan bestaan sonder die eerste nie.

AKKREDITASIE.

Deur sy lidmaatskap van CHASA is BJV ’n ge-akkrediteerde Jagtersvereniging in terme van die “Wet op beheer van Vuurwapens” No: 60 van 2000. Aangesien BJV in April 2007 self 'n Geakkrediteerde Jagtersvereniging geword het, is die vereniging dus in staat om Toegewyde Jagters Lidmaatskap aan sy lede toe te ken.